Katrina
Katrina van die Bo-kaap het voor haar deur gestaan
‘n Boot lê in die hawe
Matrose kom al aan
Oor Strandstraat na die Boereplein, die donker strate in
En netnou sal Katrina se nagtaak weer begin
‘n Halfverlepte hoedjie hang parmantig oor een oog
Die rooi veer is verinneweer maar staan nog met ‘n boog
Katrina dra haar beste rok, sy stryk die kreukels plat
So fyn asof ‘n vryer wag het sy haar uitgevat
Maar eer sy van haar huis gaan kyk sy ‘n keer weer om
Lank sal die leë ure wees voordat sy daar kan kom
Katrina stap deur Roosstraat, astrant met slentergang
Wie raai nou aan haar houding dat sy na huis verlang
Nou kom sy by haar susters
Die rawe van die nag
Wat by die hoeke uitskel of somber staan en wag
Katrina ken haar roeping
‘n Harpy van die eer
‘n Noodgedwonge rower wat alles tog ontbeer
Katrina haat die lewe
Katrina vrees die dood
Katrina gaan haar slentergang verdien haar bitter brood